Planning (Maize) (1610 words)									Afrikaans

Suksesvolle beplanning vir somergewasse



Instructions: 

Folio strap: Produksie

Byline: Artikel verskaf deur ‘n vorige produsent



Die laaste seisoen se gewasse is skaars geoes of die volgende seisoen se beplanning begin. Dit is ‘n goeie tyd om voorraadopname te doen van wat die vorige seisoen gebeur het en ondersoek in te stel na verskillende bestuurs- en produksiefaktore wat ‘n rol gespeel het om die finale kwaliteit en opbrengs van ‘n gewas te bepaal. Indien historiese rekords van elke land nie gehou is nie, is dit nou ‘n goeie tyd om die vorige jaar se data te gebruik om met ‘n rekordhoudingsisteem te begin.

Basiese rekords van die volgende fisiese aspekte van die lande behoort gehou te word en van jaar tot jaar opgedateer te word: plaasnaam, distrik, totale oppervlakte, oppervlakte bewerkbare grond, weiding, aangeplante weidings, besproeiing, opstal, plaasgeboue en store.

Elke land op elke plaas kan gemonitor word deur die volgende fisiese insette: landoppervlak, gronddiepte, grondtipe, grondvrugbaarheid, veranderinge oor verskeie jare, (indien beskikbaar vanaf die grondontleding resultate), wisselbou stelsels en wisselbou beplanning, laaste gewas aangeplant (insluitend plantdatums), kultivar, saaidigtheid, gemiddelde reënval, reën ontvang in die periode voor elke gewasaanplanting, reën ontvang in die groeiperiode, onkruidbeheer toegedien (insluitend chemikalieë en toedieningshoeveelheid en die effektiwiteit daarvan), insekdoders toegedien en hulle effektiwiteit, gewasopbrengs en kwaliteit. 

Die koste van kunsmis is een van die belangrike direkte insetkostes in ‘n gewasprogram. Die effektiewe aanwending van ‘n beplande kunsmisprogram gedurende elke seisoen en daaropvolgende seisoene, sal die produksie van optimum tot hoë opbrengste bepaal. Dit is krities om jou grondstatus te ken, veral na ‘n hoë opbrengsgewas, sowel as oortollige reën in sekere areas ontvang, wat verskeie belangrike plantvoedingstowwe kan loog. Vergeling as gevolg van ‘n gebrek aan stikstof en sulfaat was sigbaar in verskeie distrikte gedurende die vorige seisoen. In die geval van ‘n bo-gemiddelde gewas, moet die voedingstowwe wat verwyder is, vervang word om te verseker dat die volgende gewas die verwagte opbrengs kan behaal. 

Met die inligting in gedagte, behoort grondmonsters van elke land wat vir somergewasse bedoel is, geneem te word en weggestuur te word vir ontleding. Wanneer die besluit geneem is watter gewas van die volgende die hoofgewas sal vorm, kan die ontledings gebruik word om die optimum kunsmisvlakke vir die winsgewendheid van elke gewas te bepaal: mielies, sonneblom, sojabone, sorghum, grondboontjies, aartappels, suikerbone of enige ander gewas. Elke gewas sal ‘n aparte kunsmisaanbeveling vereis. Toekomstige markpryse en risikobeheer sal bepaal watter gewasse jou boerdery die beste sal pas.

Grondmonsters en grondontleding

Verskeie stappe moet gevolg word om te verseker dat ‘n goeie bekalking- en kunsmis ontledingsprogram geskik is vir jou plaas. Dit sluit in die behoorlike insameling en sorg van grondontledings, voldoende ontledingsprosedures, goed nagevorsde riglyne vir die interpretasie van die resultate, ontwikkeling van die korrekte voedingsaanbevelings en die inskakeling van die aanbevole voedingsbehoeftes van die gewas in ‘n voedingsbestuurprogram. 

Insameling van grondmonsters

Die doel van grondontledings is om die vermoë van die grond om die vereiste voedingselemente aan groeiende gewasse te voorsien te bepaal, en om enige probleme wat effektiewe gewasgroei- en ontwikkeling kan verhinder, te bepaal. Grondontledings vir klei-inhoud bepaal ook die korrekte onkruiddoder in die onkruidbeheerprogram. 

Dit is belangrik om ‘n verteenwoordigende monster van elke land te neem. ‘n Finale monster wat na die laboratorium gestuur word, kan 0,5 kg weeg, waarvan slegs ‘n paar gram ontleed word. Dit is dus krities om lande met verskillende gronddieptes te isoleer en monsters van verskillende gronddieptes en grondtipes binne ‘n land wat nie verteenwoordigend van die hele land is nie, te neem. Die toets is so goed as die monster wat in die land geneem is. Onthou dat daar ‘n ongelooflike verskeidenheid van grond binne ‘n land kan wees. In die verlede was dit voldoende om monsters van elke tien hektaar van ‘n land te neem. Dit word egter deesdae aanbeveel om ‘n grondboor te koop of te leen en kruis en dwars oor die land te loop van bo na onder. Twee persone kan saam loop, terwyl een die sakke vir elke monster dra, en die ander monsters neem op ‘n diepte van tussen 15 cm en 20 cm, maar nie dieper as 20 cm nie. 

Indien ‘n ou kunsmissak gebruik word, moet seker gemaak word dat die sak omgedop is, omdat een kunsmiskorreltjie genoeg is om die toetsresultate te beiinvloed. Soveel monsters as wat jy wil, kan geneem word, byvoorbeeld elke 100 tot 200 meter, terwyl jy kruis en dwars loop. Neem die monsters tussen die rye van die vorige oes, omdat ‘n area waar min plante was, ‘n hoë vrugbaarheidsone kan aandui. Hierdie saamgestelde monster word dan goed gemeng en ‘n monster van ongeveer 500 gram word op verskillende plekke in die sak geneem en in ‘n houer wat deur die laboratorium voorsien is, geplaas en na die laboratorium gestuur.

Die monsterhouer moet duidelik gemerk word met die landnommer, naam, plaasadres, kontaknommers en datum om enige verwarring in die laboratorium te verhoed. Dit is altyd beter om alles op die land te finaliseer sodat geen toevallige omruiling van monsters kan plaasvind nie. 

Indien ‘n deel van die land buitengewone goeie groei en opbrengs bied, word dit aanbeveel dat ‘n aparte monster van die land geneem word. Hierdie monster kan, in vergelyking met die gemiddelde monster, gebruik word om spesifieke vrugbaarheidswanbalanse in ‘n blok aan te dui en reg te stel.

Grondmonsters moet nie geneem word op ontoepaslike plekke soos wenakkers, slote, ou gekomposteerde stoorplekke vir hooi of enige verspoelde areas nie.

Dit is nou tegnies moontlik om ‘n GPS te gebruik om punte op ‘n grid sisteem te identifiseer binne 0,5 tot vier meter vanaf die punte waar lyne mekaar kruis of oor ‘n verspreide area op die grid sisteem. Die monsters kan dan van tyd tot tyd vorentoe vergelyk word en verskillende veranderinge in grondvrugbaarheid kan dan oor tyd meer akkuraat gemonitor word. Die data resultate kan dan deur ‘n GIS geskandeer word en ‘n kleurkaart van die land wat die pH, kalsium, magnesium, fosfaat sulfaat, stikstof, mikro voedingstowwe en ander grond veranderlikes aandui, kan saamgestel word wat ‘n visuele indruk gee van die veranderlikes of probleme in die land. In die meeste dele word spilpunte gemonitor deur die grid metode op ‘n hektaar per blok basis.

Grondmonster herhaling

Die beste tyd om monsters te neem, is wanneer jy tyd het om dit goed te doen, wanneer jy ‘n visuele oordeel kan neem om die land in gelyke areas in te deel en ook gedurende dieselfde tyd elke jaar na oes of op dieselfde tyd in ‘n wisselboustelsel. Dit is altyd handig om monsters na die laboratorium te stuur wanneer hulle nie so besig is nie. Die stormloop vir die komende seisoen vind gewoonlik plaas gedurende September en Oktober elke jaar. Die ontledings moet betyds wees sodat deeglike besigheidsbeplanning gedoen kan word en om te koördineer met die konsultante wat die kunsmisaanbevelings doen. 

Diepte van grondmonsterinsameling 

Vir die meeste toetse wat gedoen sal word vir fosfaat,(P), potas (K), organiese materie en pH, moet mikrovoedingstowwe grondmonsters geneem word op ‘n konstante diepte van 0 cm - 15 cm. Afhangend van die oppervlak verdigting, kan ‘n betroubare diepte wissel tussen 0 cm - 20 cm. 

Versorging van die monsters

Kontroleer dat elke sak duidelik geïdentifiseer is en ‘n unieke nommer het. Sakke moet styf toegemaak word, weg van intense hitte gestoor word en baie gou nadat dit geneem is, na die laboratorium gestuur word.

Toerusting benodig vir monsterinsameling

Die minimum toerusting benodig vir monsterneming is plaaskaarte, grondtipe verwysings, GPS verwysings (indien nodig), korrekte grondbore, of grawe (indien ‘n konstante diepte gehandhaaf kan word), monstersakke, laboratorium sakke, penne vir die merk van houers en landrekords. 

Keuse van laboratorium

Die veiligste laboratoriums om te gebruik, is die wat nie verbind is aan ‘n spesifieke maatskappy nie - hierdie resultate word befonds deur die produsent en word sy eiendom. Die LNR het ‘n aantal baie goeie laboratoriums wat gebruik kan word. Ongelukkig doen sommige kunsmismaatskappye die ontleding gratis, maar hulle is slegs gewillig om die resultate bekend te maak indien die produsent hulle kunsmis koop. 

Aanvra van toetse geskik vir jou plaas

Die meeste laboratoriums het ‘n basiese versameling toetse wat normaalweg gedoen word as ‘n standaardtoets, en ook teen ‘n redelike prys as dit opgeweeg word teen die bruikbaarheid van die resultate. 

Dit word aanbeveel om te vra vir die volgende toetse wat hieronder gelys word sodat ‘n agronoom of konsultant goeie advies kan gee deur te kyk na die grondontledings, saam met ‘n opsomming van die lande op jou plaas en ook die omgewingsfaktore waarin jou plaas geleë is. Toetse vir ph, P, K, Ca, Mg, Na en persentasie suur, asook die volgende wat ‘n aparte toets vereis: S (indien die laboratorium die toerusting het om dit te doen), Zn (HCL), klei persentasie en kalkbehoeftes as ‘n minimum. 

Gevolgtrekking

Daar is dikwels kostes verbonde aan die ontleding van jou grondmonsters – maar onthou dat die uitgawe van ‘n paar honderd rand jou duisende rande kan spaar aan oesproduksie. Dit is baie beter om elke jaar monsters te neem as om ‘n paar rand te spaar en die verkeerde hoeveelheid of tipe kunsmis te gebruik. 

